Derde van alle voedsel word vermors
2012-05-30 13:30
Rome – Een uit elke sewe mense in die wêreld ly aan wanvoeding, het die hoof van die VN se voedselagentskap (FAO) Woensdag bekendgemaak.
Dié verslag is vrygestel kort voor 'n beraad oor volhoubare ontwikkeling, wat van 20 tot 22 Junie in Rio de Janeiro sal plaasvind.
"Ons kan nie ontwikkeling volhoubaar noem as hierdie situasie voortduur nie, terwyl amper een uit elke sewe mans, vroue en kinders agtergelaat word, en ook slagoffers van ondervoeding is," het Jose Graziano da Silva, direkteur-generaal van die FAO, gesê.
"By die Rio-beraad het ons die gulde geleentheid om die samekoms van die agendas van voedselsekuriteit en volhoubaarheid te verken," het hy gesê.
Die verslag doen onder andere 'n beroep op regerings om in infrastruktuur te belê en die reg van armes te beskerm om voedsel te bekom.
Driekwart van die wêreld se armes woon in landelike gebiede en die meeste van hulle is afhanklik van landbou, het die verslag verder gelui.
"Hongersnood is die begin van 'n siklus van verlaagde produktiwiteit, meer armoede, stadige ekonomiese ontwikkeling en die afbreek van hulpbronne," het die verslag gelui.
Intussen gaan sowat 1,3 miljard ton voedsel elke jaar wêreldwyd verlore weens vermorsing of omdat dit bederf raak. Dis sowat 'n derde van alle voedsel wat vir menslike gebruik geproduseer word.
"In 2050 sal daar na verwagting 'n wêreldbevolking van 9 miljard mense wees, met hoër inkomste en stygende vraag na voedsel. Druk op die wêreld se landbou- en voedselstelsels en die hulpbronne wat daarvoor gebruik word, sal toeneem," het die agentskap gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP