Depressie teister Suid-Afrikaners in feestyd
2011-12-07 08:01
Johannesburg – Vakansies is ’n tyd vir familie, rus en ontspan, maar vir 80% van Suid-Afrikaners is dit ’n spanningsvolle tyd.
Volgens ’n nasionale oorsig wat deur ’n farmaseutiese maatskappy gedoen is, het 8 uit 10 van die mense wat aan hul opname deelgeneem het, erken hulle is gespanne.
Die grootste oorsaak is geld, of die gebrek daaraan. Mense wat in dié tyd weggaan, is gespanne oor veiligheidsmaatreëls by hul huis voordat hulle met vakansie gaan.
Mariska Fouché, ’n woordvoerder van Pharma Dynamics, het gesê die derde grootste rede vir spanning en depressie is verlange na geliefdes wat ver of dood is.
Cassey Chambers, operasionele direkteur van die Suid-Afrikaanse depressie-en-angsgroep (Sadag), het gesê die aantal oproepe wat hulle in die feestydperk ontvang, is min of meer dieselfde as die res van die jaar, maar die redes verskil.
“Vir mense wat alleen is, is dit ’n baie moeilike tydperk. Mense wat onlangs geskei is, ’n geliefde verloor het of ’n traumatiese ondervinding beleef het, vind dié tyd van die jaar besonder moeilik.”
Chambers het gesê dit is veral ouer mense wat spanningsdruk (stres) beleef. “Hulle word meer bewus van hoe alleen hulle is, veral as hul kinders nie kom kuier nie, of in die buiteland woon.”
Intimiteit help mense om spanning beter te hanteer.
Fouché het gesê kliniese studies het bevind dat paartjies wat hande vashou, baie laer stresvlakke het. “Soentjies en drukkies verminder alledaagse angs. Paartjies wat gereëld soen, is ook minder geneig om aan depressie te ly.”
Nog redes vir angstigheid sluit onder meer in om gaste te onthaal, verblyf vir familie en vriende en Kersinkope.
Mense wat angstig of depressief voel, kan Sadag se beraders by Pharma Dynamics’ se gratis inbellyn tussen 08:00 en 20:00 skakel by 0800-205-026.
Die Bevrienders in Bloemfontein bied ook 24 uur per dag gratis, vertroulike telefoniese emosionele steun. Bel hulle enige tyd by 051-444-5000.
Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad