Dele van Einstein se brein in museum uitgestal
2011-11-19 14:37
Philadelphia – ‘n Mediese museum in Philadelphia het dele van Albert Einstein se brein op ‘n uitstalling geplaas.
Lucy Rorke-Adams het Donderdag 46 skyfies van Einstein se grysstof aan die Mutter-museum by die Kollege van geneeshere geskenk, het die Philadelphia Inquirer berig.
Die 82-jarige dokter het vir 47 jaar by die Kinderhospitaal van Philadelphia gewerk. Sy het gesê sy wou seker maak dat die skyfies veilig in ‘n museum is.
Volgens Rorke-Adams lyk Einstein se brein jonk vir sy ouderdom. Hy was 76 toe hy in 1955 dood is.
‘n Kollega het die skyfies in die 1970’s vir haar gegee. Daardie persoon het hulle gekry van die weduwee van ‘n dokter.
Die grootste deel van Einstein se brein is by die Mediese Sentrum Universiteit in Princeton, waar die nadoodse ondersoek uitgevoer is.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA