Dansende robotte help outistiese kinders
2012-11-08 14:43
Londen – Twee dansende robotte kan binnekort in klaskamers oor Brittanje heen gebruik word om outistiese kinders te help.
Die robotte, wat Max en Ben genoem word, help glo om die kinders se sosiale interaksie en kommunikasievaardighede te verbeter, het Sky News berig.
Die Topcliffe-laerskool in Birmingham gebruik dié robotte sedert Maart met groot welslae.
Die robotte, wat min of meer kniehoogte staan, kan onder andere dans en speletjies speel.
“Ons kyk nou al ‘n hele ruk hoe tegnologie studente met outisme kan help, en hoe dit die kinders kan help om hulle kommunikasievaardighede te verbeter,” het dr Karen Guldberg van die Universiteit van Birmingham gesê.
“Onderwysers en leerders eksperimenteer met die robotte en ander tegnologie en dit hou beduidende voordele in die klaskamer in.”
Navorsing toon dat kinders met outisme rekenaars en gepaardgaande tegnologie as veilige hulpmiddels beskou.
“Die robotte is briljant met die outistiese kinders,” het Ian Lowe, skoolhoof by Topcliffe, gesê.
Kyk hier na 'n video van die robotte.
– Volg Nuus24 op Twitter