DBV verbied wrede speletjie
2010-02-10 10:31
Wellington – Die Dierebeskermingsvereniging (DBV) het Woensdag ’n verbod op die kreefvang-speletjie (Catcher Cray) in alle kroeë in Auckland gesit.
Die masjiene moedig drinkers aan om lewende krewe met metaalkloue te vang.
Bob Kerridge van die DBV het gesê die "Catcher Cray"- masjien, waar ’n besoeker ‘n muntstuk kan ingooi om ‘n kreef te vang, veroorsaak stres, trauma en lyding onder die diere.
"Hulle raak verbouereerd en tree dadelik terug wanneer ‘n muntstuk in die masjien gegooi word," het hy aan die New Zealand Herald gesê. "Hulle weet hulle lewe is in gevaar.”
Sommige kroeë het al hulle masjiene begin verwyder toe die vereniging daaroor gekla het, maar hulle was genoodsaak om die laaste oorblywende drie masjiene op te stop sodat daar geen geld ingegooi kan word nie.
-Sapa-dpa