Curiosity neem grondmonster
2012-10-19 14:20
Washington – Nasa se Curiosity-verkenningstuig het Donderdag sy eerste monster Mars-grond geneem om te toets of die planeet eens op ‘n tyd lewe kon ondersteun.
Die insameling van die monster was 'n bietjie vertraag terwyl wetenskaplikes bespiegel het oor die aard van 'n helder stof in 'n gat wat die Curiosity gegrawe het. Die span het eers geglo dat die helder dele stukkies afval was van Curiosity se landing.
“Op die ou end voel ons dit is dalk ‘n heeltemal ander soort deeltjie,” het John Grotzinger, Curiosity se hoofwetenskaplike, gesê.
Die wetenskaplikes het nietemin, in 'n poging om eerder versigtig te wees, besluit dat die Curiosity op ‘n ander gebied grond moet kry – ingeval die helder stof dalk wel van die Curiosity afkomstig is.
“Ons is definitief meer bewus van wat daar rondom ons aangaan en is baie versigtig oor die goed waarna ons kyk,” het Richard Cook, ‘n Nasa-amptenaar, gesê.
Die verkenningstuig sal minstens twee jaar lank op die planeet aktief wees en sal inligting van Mars se geologie en geomorfologie, asook die aard van organiese aktiwiteit op die planeet se oppervlak, na die aarde terugsein.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Reuters