Coca-Cola is veilig, sê vervaardiger
2012-03-14 07:06
Marzanne van den Berg en Elise Tempelhoff
Johannesburg – Hoewel Coca-Cola se produksieproses verander word om ’n kankerwaarskuwing in die VSA te omseil, is die koeldrank nie gevaarlik nie.
Owerhede in die Amerikaanse deelstaat Kalifornië het Coca-Cola, Pepsi en ander koeldrankvervaardigers gevra om óf kankerwaarskuwings op hul produkte aan te bring óf die vlakke van ’n sekere chemikalie in die koeldrank te verlaag.
Die chemikalie is ’n karamel-kleurmiddel bekend as 4-MEI, wat in navorsing aan kanker by proefdiere verbind is.
Die Internasionale Agentskap vir Kankernavorsing het in die 2010-’11-uitgawe van sy publikasie oor karsinogeniese gevare geskryf daar is voldoende bewyse dat 4-MEI karsinogenies (kankerwekkend) is by proefdiere.
Die Amerikaanse kos-en-medisyne-owerheid (FDA) het daarna gesê die koeldrank is veilig.
“’n Verbruiker sal baie meer as 1 000 blikkies koeldrank per dag moet drink om die hoeveelheid van die stof in te kry wat in die navorsing aan proefdiere toegedien is,” het mnr. Doug Karas, woordvoerder van die FDA, aan Reuters gesê.
Dr. Carl Albrecht, navorsingshoof van die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa), het gesê proefdiere reageer soms anders as mense op stowwe en dit kan wees dat ’n stof wat kanker in ’n proefdier veroorsaak, skadeloos vir ’n mens is.
Angela D. Harrell, kommunikasiehoof van Coca-Cola Suid-Afrika, het in ’n verklaring gesê die karamel-kleurmiddel in die maatskappy se produkte ís veilig.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld