China draai visier op speletjies
2009-10-09 23:45
China - China het ‘n veldtog van stapel gestuur om alle "onwettige" digitale speletjies, asook dié wat "ongesonde" inhoud bevat, vas te trek.
Dit is die land se mees onlangse poging om die internet weer ‘n "suiwer sone" te maak.
Die veldtog het tot dusver gelei tot die verwydering van sowat 45 aanlyn-speletjies.
Plaaslike owerhede het gesê die speletjies moedig spelers aan om aan onwettige aktiwiteite soos dwelmsmokkelary en prostitusie deel te neem, het Beijing News berig.
Luidens ‘n verklaring is sowat 45 aanlyn-speletjies reeds verbied. Sommige speletjies was vanuit ‘n ander land bestuur en het nie die nodige toestemming ontvang om in China bedryf te word nie.
Sowat 200 aanlyn-speletjies is sover ondersoek.
China trek gedurig ongesonde aanlyn-speletjies vas, met inhoud wat pornografie en geweld insluit.
Verlede maand het owerhede aangekondig dat alle liedjies wat op musiekwebwerwe geplaas word, vooraf goedgekeur moet word en alle uitheemse woorde in die liedjies na Chinees vertaal word.
China het sowat 338 miljoen internet-gebruikers, meer as enige ander land ter wêreld.
- Sapa-AFP