China blok Google forum
2010-08-04 03:31
Shanghai – ‘n Google webblad waarop internet gebruikers vrae kan stel en antwoorde kan kry, is vir talle verbruikers in China ontoeganklik gemaak.
Die Chinese regering gebruik ‘n fliter, die sogenaamde “Great Firewall”, om enige inhoud wat as ondermynend of gevaarlik beskou word, te blok.
Gevolglik word soekenjins genoodsaak om hulself te sensor.
Die webblad op Google het ‘n forum vir Chinese verbruikers geskep waar hulle enige vrae kon vra, maar sekere deelnemers het skynbaar sensitiewe onderwerpe aangeraak.
Onlangse vrae het juis gegaan oor die betogings in 1989 op Tiananmen-plein, ‘n onderwerp wat verban is in China.
Een persoon wou weet wanneer die volgende Tiananmen-betoging sal plaasvind.
Een van die antwoorde op die vraag was: “Binnekort. Die Kommunistiese regering gaan val”.
Ander onderwerpe op die forum het onbeskofte aanmerkings oor die voormalige leier Mao Zedong bevat.
'n Ander onderwerp wat geopper was, is die onlangse betogings in die suide van China om Kantonees te beskerm.
Dié betoging in Guangzhou, het op skermutselings tussen die polisie en betogers gelei.
Talle mense wat die Google forum wou meemaak, is geblok.
Google het gesê hulle sal die saak ondersoek.