China: Waterbesoedeling saai paniek
2012-01-26 10:09
Sjanghai – ‘n Mynmaatskappy wat giftige kadmium in ‘n rivier in Guangxi in die suide van China gestort het, het die afgelope week groot kommer veroorsaak, het die staatsmedia Donderdag gesê.
Inwoners in Liuzhou het bokse gebottelde water gekoop om te verseker hulle het skoon dinkwater, terwyl die regering mense probeer gerusstel dat drinkwater veilig is, het Sjanghai se Oriental Morning Post berig.
Amptenare het bevind dat afval wat deur die Jinhe-mynmaatskappy in die Longjiang-rivier gestort is baie hoë vlakke van kadmium bevat.
Die vlakke was sowat drie keer meer as die aanvaarde vlakke, het die Xinhua-nuusagentskap berig.
Die besoedeling is oorspronklik op 15 Januarie opgemerk nadat dit ‘n “klein hoeveelheid” visse laat vrek het, maar metings wat Woensdag geneem is het hoë vlakke van kadmium verder af in die rivier getoon.
Die Liuzhou-regering kon nie Donderdag bereik word vir kommentaar nie aangesien dit ‘n openbare vakansiedag is.
Amptenare het beamptes uitgestuur om te verseker dat daar genoeg gebottelde water by winkels is en om te verseker dat pryse nie die hoogte in skiet nie, het Xinhua gesê.
Nietemin hou amptenare vol dat waterkwaliteit in die omgewing “veilig” is.
Brandbestryders het die afgelope week chemikalieë, wat die kadmium neutraliseer, in die rivier gestort.
Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie is kadmium ‘n karsinogeen wat die niere, bene en asemhalingstelsel kan beskadig.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP