Buffel op sportveld nou nêrens in sig
2010-10-14 06:50
Virginia - Die jong buffelbul wat Dinsdag hier na ’n wildkamp gejaag is nadat hy iewers uitgebreek en op ’n sportveld in die middedorp gewei het, is nou soek.
Dirk Smit, eienaar van Ti-kwe Lodge, sê die buffel was Dinsdag teen 18:00 nog in die wildkamp.
“Ons is seker dat die buffel steeds in die kamp is, want daar is geen teken dat hy iewers deur die grensdrade gebreek het nie.”
’n Vliegtuig is Woensdag ingespan om te help soek na die buffel, maar moes teen Woensdagmiddag vroeg weens slegte weer tou opgooi.
Smit sê hulle het besluit om eers Vrydag weer met die planne voort te gaan om die buffel op te spoor en te verdoof.
Hy sê ’n moontlike eienaar is opgespoor, maar dit sal eers bevestig kan word sodra die buffel gevang is.
Thea Smit van die Dierebeskermingsvereniging (DBV) op Virginia sê dit is tipies van ’n buffel om in ’n kamp wat baie ruig is, “weg te raak”.
“Ons sal waarskynlik Vrydag te perd na die buffel begin soek.”
Sy sê dat die buffel “weg” is, is ’n goeie teken, want dit wys dat die dier nie gespanne is nie.
“Diere word een met die natuur en is veral moeilik om in die hitte van die dag te sien wanneer hulle op die grond lê.”
Die DBV het op die buffel beslag gelê, omdat dit as ’n rondloperdier beskou word.
Die kamp waarin die buffel is, is 32ha groot en baie ruig.
“Daar was in ’n stadium vyf ‘eienaars’, van wie sommige die buffel wou skiet.
“Nadat die nodige bloedtoetse gedoen is en vasgestel is of die dier wel ’n mikroskyfie het, sal ons kan bepaal wie die eienaar is. Die DBV sal dan die buffel aan die departement van natuurbewaring oorhandig.
“Intussen hou ons die grensdrade dop om seker te maak die buffel breek nie uit nie.”
- Volksblad