Britte het hul dooies geëet
2011-02-17 12:51
Londen - Antieke Britte het hulle dooies geëet en grusame bekers van hul oorblyfsels gemaak, meen navorsing wat Woensdag gepubliseer is.
Navorsers by Londen se Museum van Natuurlike Geskiedenis het 15 000 jare oue menslike beendere in die suide van Engeland gevind, met tekens van kannibalisme en skedels wat in drinkbekers verander is.
Die skedels is in Gough se Grot in die Cheddar-kloof, in die suidwestelike Engelse distrik van Somerset, gevind.
Sagte weefsel en gesigsbene is noukeurig verwyder, en die ruwe kante van die skedels is glad gemaak om skedel-koppies of bekers te skep, het paleontoloog Silvia Bello in 'n studie in die Openbare Biblioteek van Wetenskap-joernaal PLoS ONE gesê.
“In die geheel is dit ’n baie moeisame proses gegewe die gereedskap wat toe beskikbaar was,” het Bello in ’n verklaring gesê.
Die navorsers het getoon die bekers kon as houers of vir rituele doeleindes gebruik word.
“Dit is onmoontlik om te weet hoe die skedel-bekers toe gebruik was, maar in onlangse voorbeelde kon hulle gedurende rituele gebruik word om bloed, wyn of kos te hou,” het Chris Stringer gesê, wat gehelp het om een van die skedel-bekers in 1987 uit te grawe.
Teen ongeveer 14 700 jaar oud is die skedel-bekers uit Gough se Grot die oudste gedateerde voorbeelde ter wêreld, het navorsers gesê.
Volgens hulle kan die omstandighede rondom die dood van die Cro-Magnons (Europese vroeë moderne mense) wie se beendere dit is, net oor geraai word.
Hulle is dalk doodgemaak, afgeslag en geëet – met die skedel-bekers as ’n eindresultaat hiervan – of dalk was hulle deel van die groep wat oorlede is en in ’n noodgeval geëet is, met die skedel-bekers wat as huldeblyke aan die dood geskep is.
“Ons weet net eenvoudig nie,” het navorsers gesê.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Reuters