Brasilië dagvaar Twitter oor spoedlokvalle
2012-02-09 10:02
Brasilia – Die Brasiliaanse regering dagvaar die sosiale netwerk Twitter en sy gebruikers in 'n poging om die publisering van boodskappe wat motoriste in kennis stel van spoedlokvalle en padblokkades te stop.
Die dagvaarding is by die hof in die sentrale Brasiliaanse staat Goias ingedien.
Brasilië het gevra dat "alle rekeninge wat inligting uitgee oor spoedlokvalle en padblokkades onmiddellik gesluit moet word".
Verskeie Brasiliaanse state het streng wette ingestel om dronkbestuur hok te slaan. Bestuurders maak gereeld van sosiale netwerke soos Twitter gebruik om ander in kennis te stel van die polisie se kontroleringspunte.
Minstens 55 000 mense sterf jaarliks in dié land weens padongelukke.
Die nuus oor die dagvaarding het 'n storm op Twitter ontketen met sommige wat ten gunste daarvoor is terwyl ander dit gekritiseer en gesê het dat dié tweets help hulle om ongelukke en verkeersopeenhopings te vermy, het die radiostasie CBN berig.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA