Borsmelkkaas in New York geëet
2011-05-04 12:55
‘n New York-kunsgalery het aan avontuurlustige eters die geleentheid gegee om aan ‘n voedsame, dog vreemde, kaas te smul – borsmelkkaas.
Die Lady Cheese-winkel is kunstenaar Miriam Simun se tydelike uitstalling, wat die vreemde kookkuns as spraakbuis gebruik om besoekers oor die etiese kwessies rondom biotegnologie bewus te maak.
“Sommige mense is mal daaroor, ander gril,” het Simun gesê.
Die gegradueerde student van die New York Universiteit het drie vroue opgespoor wat bereid was om hul borsmelk te skenk voor sy die melk gepasteuriseer het om die happies te maak.
Drie kase was beskikbaar: Die “romerig en hemelse” Midtown Smoke, West Side Funk en die Wisconsin Chew, wat glo die skenker se vegetariese dieet weerspieël.
“Dis baie gesonder as koeimelk,” het Jocelyn James, ‘n Manhattan-inwoner, gesê. Sy het gesê Midtown Smoke is haar gunsteling, glo omdat Wisconsin Chew aan die vaal kant proe.
“Die kaas het egter ‘n stigma,” het sy erken.
Simun het gesê sy hoop om besoekers bewus te maak oor hoe die mens se liggaam as “fabrieke” vir hare, bloed, spermselle en organe vir ander gebruik word.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Reuters