Borskanker neem toe in arm lande
2009-11-03 09:07
Washington – Borskanker is besig om ‘n toenemende globale epidemie te word en kom al hoe meer in ontwikkelende lande voor waar die sterftesyfer hoër is en waar daar minder toegang tot mediese dienste is, het Amerikaanse navorsers Maandag gewaarsku.
“Ons het altyd gedink dat borskanker net ‘n probleem onder welgestelde vroue was, maar nou weet ons dat borskanker nie gunstelinge kies nie. Dit tref ryk en arm vroue ewe veel,” het Felicia Knaul, Ph.D., hoof van die Harvard Global Equity Initiative gesê.
“Die enigste verskil is dat, teen die tyd wat die siekte in arm vroue gediagnoseer word, is dit baie maal te laat vir effektiewe behandeling.”
Sowat 1,35 miljoen gevalle van borskanker sal wêreldwyd in 2009 gediagnoseer word, wat 10,5% van nuwe kankers verteenwoordig. Borskanker kom die tweede meeste voor, na longkanker, het ‘n studie van die Harvard skool vir openbare gesondheid getoon.
Daar word verwag dat gevalle van borskanker teen 2020 met 26% sal toeneem, met sowat 1,7 miljoen nuwe gevalle wat meestal in lae- en middel-inkomste ontwikkelende lande sal voorkom, het die navorsers gesê.
In 2009 sal meer as 55% van die 450 000 aangetekende borskanker sterftes wêreldwyd in lande wees wat nie die hulpmiddels het om ‘n voeë diagnose en behandeling aan te bied nie.
Die moontlikheid om van borskanker, wat behandelbaar is as dit vroeg gediagnoseer word, te sterf, bereik ‘n hoogtepunt van 56% in die armste lande, 39% in middel-inkomste lande en slegs 24% in die rykste lande.
“Daar is nie ‘n eenvoudige oplossing om die globale borskanker probleem te takel nie,” het dr. Lawrence Shulman, hoof van die Dana Farber kankerinstituut, gesê.
“Wat in landelike Mexiko werk, is nie dieselfde as wat in Malawi of Haiti benodig word nie.”
Van die grootste probleme is die tekort aan onvoldoende infrastruktuur sodat pasiënte versorg kan word; om vroue te kry om vir ondersoeke te gaan ; en om die sosiale stigma te oorkom wat met borskanker geassosieer word, het navorsers bygevoeg.
- Sapa-AFP