Borsinplantings wek kommer
2011-12-20 22:55
Parys – Sowat 30 000 Franse vroue moet dalk hul borsinplantings verwyder oor vrese dat dit ernstige gesondheidsprobleme, insluitend kanker, kan veroorsaak, het die Liberation berig.
Agt gevalle van kanker is aangemeld onder vroue wie se borsinplantings deur die maatskappy Poly Implant Prothese (PIP) gemaak is.
'n 53-jarige vrou met borsinplantings het in November weens 'n rare vorm van borslimfoma beswyk.
Dit het aan die lig gekom dat die Franse vervaardiger 'n substandaard silikoon in die inplantings gebruik het. Dít kan veroorsaak dat die inplanting skeur.
Die koerant het verder berig dat die ministerie van gesondheid vroue, wat PIP-inplantings ontvang het, teen die einde van die week sal vra om die inplantings te verwyder.
Meer as 2 000 vroue het reeds regsstappe gedoen oor die inplantings.
Daar is volgens die koerant wêreldwyd sowat 300 000 mense met PIP-inplantings.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa-DPA