Boer ontsteld oor hen se blou eiers
2011-10-13 09:27
Kimberley – Die eienaardige ligblou eiers wat ’n ywerige agterplaas-hoenderboer van Roodepan se hen sedert Junie lê, ontstel hom en maak hom effens naar.
“Eiers moet wit of bruin wees. Ek sit nie my mond aan die blou eiers nie. Ek is te bang om dit te eet,” sê Charles Lang.
Sy gesin en uitgebreide familie weier ook om dit gaar te maak.
Die hoenders vreet net mielies en groenteskille.
“Ek kan dit nie verstaan nie. Sy eet tog dieselfde kos as al die ander henne.”
Hy het dié hen vroeër vanjaar saam met ander henne by ’n buurvrou gekoop. Dit is net sy wat blou eiers lê.
Lang boer sedert 1995 met hoenders.
“Ek was selfs al by ’n pluimveeplaas om antwoorde te soek. Ek het vroeër jare op grootskaal geboer en hoenders en eiers verkoop. Maar nou is ek te oud en siek ná vyf rugoperasies. Ek hou net ’n paar hoenders agter in my erf vir eie gebruik.
“Ek het die blou eiers by ander henne gesit om te sien of dit uitbroei. Dit het nie. Daar is sewe blou eiers in die een hok en twaalf in die ander een. Dit is seker al vrot,” sê Lang. Hy het nog nie die eiers gebreek om te sien of dit binne normaal lyk nie.
’n Veekundige van die Universiteit van die Vrystaat, Foch de Witt, sê die verskynsel is raar, maar nie ongewoon nie.
“Dit is ’n genetiese oorsaak. Die geen is resessief en slaan soms deur. Dit is ’n kleurpigment op die dop. Selfs wit en bruin eiers het ’n kleurpigment. Voëls soos emoes en die Araucana- en Silkie-hoenderrasse lê groen en blou eiers.
“Dit is vir kamoeflering. Groen eiers lyk soos blare in die woud. Ligblou eiers kan soos klippe op die grond voorkom,” sê De Witt.
Die eiers is eetbaar.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad