Bobbejane weet wanneer dit veilig is om te ‘steel’
2010-07-22 12:46
Kaapstad – Bobbejane in die Kaapse Skiereiland weet lankal hoe om toeriste se motordeure oop te maak om kos te steel.
Maar nou weet hulle selfs dat hulle na die geluid moet luister wat motors se alarms maak wanneer dit gesluit word, het ‘n stadsbeampte Woensdag gesê.
Theuns Vivian, toerismebestuurder van die stadsraad, wat die media toegespreek het, sê die munisipaliteit probeer om die nasionale regering te oorreed om ‘n amptelike waarskuwing teen bobbejane goed te keur.
“Mense stop hul voertuie en dan word die voertuie beskadig,” het hy gesê.
“Of hulle klim uit hul voertuie en dié bobbejane is hoogs intelligente diere. Hulle wag vir die geluid van die motoralarm.”
As hulle nie die aktiveringsgeluid van die alarm hoor nie, weet hulle dis veilig om die motor te nader. Hulle weet die deur is nie gesluit nie.
Die bobbejane is lief daarvoor om kos, kamera’s en ander waardevolle besittings te “steel.”
“Hulle is so intelligent. Hulle wag vir die geluid van die alarmstelsel. Ons moet ons toeriste hieroor opvoed.”
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA