Blomkool-ore spelers se trofee van weleer
2011-09-08 09:26
Kaapstad – Blomkool-ore is seker die sous en pyn werd wanneer jy die Groen en Goud oor die kop kan trek.
Sulke ore is nie seer op die langduur nie, al lyk dit erg pynlik. Buitendien is rugbyspelers gehard.
Jason Suter, WP-spandokter en direkteur van The Executive Athlete by die Mediclinic Constantiaberg se sportrehabilitasiesentrum, sê blomkool-ore het veral hul oorsprong in die skrum, wanneer koppe teen mekaar skuur, of in losgemale, wanneer ’n kop teen ’n bobeen skuur. Veral die voorry se ore loop deur.
“Die wrywing veroorsaak bloeding tussen die vel en kraakbeen van die oor. Die hele oor swel en met die verloop van tyd vorm klonte, wat uiteindelik hard word,” het Suter verduidelik.
Die tydelike oplossing is om die bloeding so gou moontlik met ’n naald te dreineer en die oor “styf te verpak sodat druk daarop is”.
Maar ’n week later draf die speler weer uit en alles begin van voor af. ’n Skrumpet of stywe pleisters help, maar dit is nie ’n 100%-waarborg teen blomkool-ore nie.
“Die beste oplossing is om te wag tot aan die einde van jou loopbaan en dit met plastiese snykunde reg te maak,” meen Suter.
Maar die meeste spelers los hul ore net soos hulle is, as ’n soort trofee van weleer.
’n Goeie voorbeeld van iemand met blomkool-ore is Graham Rowntree, voormalige Britse Leeu en loskopstut. “Daai ou het lag-lag die lelikste ore,” sê Charl Marais, oud-Springbok.
Hempies du Toit, oud-Springbokstut, sê: “Ek was vreesaanjaend op die veld. Kyk, hulle was bang vir my, niémand het naby my gekom nie. Ek het ’n fyn tegniek gehad om die ouens af te weer – ek het hulle met my kop op die ore geklits lank voordat hulle náby my ore kon kom. Ek het net een keer so ’n “ligte blomkooloortjie” gekry.”
Schalk Burger sr., oud-Springbokslot, sê sy ore is nie te erg nie. “Sien, ek moes my kop tussen die ander ouens se boude indruk, wat gehelp het om my ore te beskerm. Dit help baie. Sagte boude is baie beter as harde boude, ja, definitief.”
- Volksblad
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad