Blitsiger rekenaar ontwerp vir SKA
2012-04-07 10:50
Kaapstad – ’n Rekenaar wat ’n duisend keer vinniger as die vinnigste superrekenaar op aarde is, word ontwerp vir die Square Kilometre Array (SKA).
Dié tender vir €32,9 miljoen (sowat R338 miljoen) is pas aan IBM en die Nederlandse Instituut vir Radio-astronomie (Astron) toegeken.
Intussen is dit steeds nie bekend of Suid-Afrika of Australië/Nieu-Seeland die SKA sal huisves nie. Die SKA-organisasie het vandeesweek ná ’n vergadering in Amsterdam gesê ’n “klein wetenskaplike werkgroep” is saamgestel om die moontlike implementeringsopsies vir ’n inklusiewe benadering te verken. Die groep sal op ’n ledevergadering teen middel Mei terugvoering gee.
Daar word wyd bespiegel dat die SKA moontlik tussen die lande “gedeel” kan word, maar nie Suid-Afrika of Australië is daarvoor te vinde nie, omdat dit ’n invloed sal hê op die kwaliteit wetenskap wat gedoen kan word. Die SKA-organisasie het egter nie uitdruklik gesê dat sal gedeel word nie.
IBM en Astron sal vir die volgende vyf jaar ’n rekenaar ontwerp en bou wat groter en vinniger is as enige stelsel wat tans bestaan. Die projek staan bekend as Dome.
Die rekenaar sal die huidige internetverkeer met twee keer oorskry, omdat die data wat die SKA sal versamel so omvattend is. Die groot hoeveelhede rou data moet ook iewers gestoor word totdat dit ontleed kan word.
Christopher Sciacca, kommunikasiebestuurder van IBM-navorsing, het aan Die Burger gesê om só rekenaar vandag te bou is onmoontlik, omdat daar nie genoeg energie is om dit aan te dryf nie. “Dus moet ons ’n nuwe ontwerp vind wat ’n duisend keer vinniger is was enige superrekenaar, maar wat baie, baie minder energie verbruik.”
Dr. Marco de Vos, direkteur van Astron, het gesê: “Dome sal ons nuwe maniere gee om ’n groen superrekenaar te ontwerp, omdat die energieverbruik dramaties minder moet wees. Dit sal tot voordeel van die groter gemeenskap wees.”
’n Deel van die plan is om mikroskyfies driedimensioneel op mekaar te stapel, nuwe gebruike vir optiese internetverbindings en die gebruik van nanotegnologie in rekenaargeheue.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger