Blinde renoster laat hom nie onderkry
2011-09-21 08:08
Polokwane – Die blinde en wees renosterbulkalf Roccy is ’n ware vegter en “survivor”.
Só sê Yvonne Gioia, eienaar van die ses maande oue Roccy, wat blind is nadat horingstropers hom in Junie aangeval het.
Roccy se ma is tydens dieselfde aanval op Sondag 19 Junie deur die stropers op die Elandela- private natuurreservaat buite Hoedspruit doodgemaak. Haar horings is afgekap en sy is meer as 12 keer geskiet. Sy het ook verskeie kapmerke oor haar nek en rugstring gehad.
Gioia het gesê hulle vermoed die stropers het Roccy, toe slegs drie maand oud, verskeie kere hard oor sy kop geslaan. Dit kan wees waarom hy blind is.
Besoekers aan Elandela het Roccy die volgende dag in die veld gesien waar hy verward rondgehardloop het. Hy was erg ontwater. Nadat Roccy gevang is, is hy na die Moholoholo-diererehabilitasiesentrum buite Hoedspruit gevat. Dit is hier waar veeartse bevind het hy is blind.
Gioia het gesê hulle het ná die stroping die oorblywende renosters op die reservaat almal onthoring om hulle teen stropers te probeer beskerm.
Sy het bygevoeg Roccy was erg getraumatiseerd ná sy ma se dood. Dit het lank gevat vir hom om mense te vertrou. Roccy is intussen terug by sy eienaars op Elandela. ’n Kamp is vir hom gebou. Hy loop ook mak rond op ’n grasperk voor die luukse lodge op die reservaat.
Hy word elke dag ses keer gevoed en drink ’n melkmengsel van sowat 15 liter per dag. “Hy het ’n wil om te leef en laat hom nie onderkry omdat hy nie kan sien nie,” het Gioia gesê.
Roccy het al begin gras en lusern vreet.
Gioia en haar man, Rocco, het nou die Elandela Rhino Survivor Trust gestig. Geld wat ingesamel word, sal gebruik word vir ’n operasie by Onderstepoort wat Roccy moontlik weer sal kan laat sien. Die operasie sal meer as R30 000 kos.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger