Blinde ontwerp rekenaar wat vyf tale kan praat
2011-01-24 07:17
Kaapstad –’n Blinde Suid-Afrikaanse navorser het ’n “pratende, draagbare rekenaar” ontwerp, wat in vyf landstale kan kommunikeer.
Willem van der Walt, verbonde aan die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR) se Meraka-instituut, noem sy rekenaar die Notetaker. “Maar dit is veel meer as ’n notaboek,” voeg hy by.
Die rekenaar maak gebruik van ’n program, eSpeak, waarvan hy die Afrikaans ontwikkel het, maar dit kan ook Sepedi, Zoeloe en Engels praat en die Tswana is byna klaar.
Die rekenaar kan met die druk van een knoppie byvoorbeeld tussen tale wissel.
“Indien jou voorkeurtaal Afrikaans is, maar jy kry skielik e-pos in Engels, kan jy net een knoppie druk en alles is weer reg.”
eSpeak is ’n bestaande stemsintetiseerder wat rekenaarteks neem en spraak produseer.
Dit help ook mense wat weens ’n mediese toestand nie kan praat nie. Van der Walt is besig om die stemme te verfyn sodat die blikstem weg is en dit meer natuurlik klink.
Dit kan omgeskakel word na ’n selfoon. Die program is dus klein en neem nie baie van die geheue van die rekenaar nie.
Mense kan e-pos en die internet geniet in Afrikaans, asook van die ander tale, met gebruik van bestaande sagteware wat Van der Walt aangepas het.
Christo de Klerk, ook ’n blinde, het hom baie daarmee gehelp, vertel hy.
’n Mens kan toegang kry tot Wikipedia, sonder om aanlyn te wees, vertel hy, asook tot ’n woordeboek. “Voorheen was dit so moeilik vir blinde mense om ’n ensiklopedie te lees.”
Die rekenaar in sy geheel is nog nie kommersieel beskikbaar nie en die instituut is op soek na ’n belegger om dit verder te neem.
Die spesifieke programme is wel beskikbaar.
Van der Walt sê toe hy die eerste teks in Afrikaans getoets het, was dit ’n artikel uit Die Burger oor kinders wat nie genoeg lees nie.
Mense kan hom e-pos by wvdwalt@csir.co.za.
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger