BlackBerry sukkel; Nokia, Amazon bou spiere
2011-11-15 14:14
New York – Die aanlynwinkel Amazon.com se tabletrekenaar, die Kindle Fire, en Microsoft en Nokia se gesamentlike poging om na die mark vir draagbare tegnologie terug te keer bou momentum terwyl BlackBerry agter raak.
Só het ‘n maatskappy wat met vervaardigers van programme vir draagbare toestelle saamwerk die stand van die mark vir gebruikerstegnologie verduidelik.
Ontwikkelaars van sagteware vir draagbare toestelle bly smoorverlief op Apple se iPhone en iPad en, tot ‘n mindere mate, Google se Android-bedryfstelsel, het ‘n peiling van die navorsersingsgroep IDC and Appcelerator bevind.
Op die tweede podiumplek het Microsoft se vriendskap met Nokia die BlackBerry-vervaardiger RIM verder op ontwikkelaars se lys van witbroodjies afgeskuif.
“Amazon en Microsoft beleef tans vooruitgang,” het Appcelerator se hoof van bemarking, Scott Schwarzhoff gesê. “RIM word steeds deur struikelblokke in die gesig gestaar – veral oor sy sukkelende tabletrekenaar die PlayBook.”
Volgens Schwarzhoff is ontwikkelaars uiters geprikkel deur Amazon se Kindle Fire.
“Dit lyk of dit ‘n groot treffer kan wees,” het hy gesê.
Belangstelling in die toestel is glo naastenby so groot soos dié in Apple se duurder iPad.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Reuters