BlackBerry-gebruikers kan geld terugeis
2011-10-13 12:31
Johannesburg – BlackBerry-gebruikers wat deur die onlangse onderbreking in dienste geraak is, kan vergoeding van die Nasionale Verbruikerskommissie (NVK) eis, het Business Day Donderdag berig.
Afdeling 55, 56 en 61 van die Wet op verbruikersbeskerming bied die nodige beskerming, het komm. Mamodupi Mohlala gesê. Die wet verduidelik die verbruiker se regte in terme van die gehalte van goedere en bespreek ook wie verantwoordelikheid moet neem vir enige skade.
Enigiemand in die waardeketting kan, volgens afdeling 61 van die wet, aanspreeklik gehou word.
Kenners reken egter dat dit moeilik kan wees om volgens die wet te werk te gaan omdat die fout buite Suid-Afrika ontstaan het.
BlackBerry-verkeer word deur twee hoofsentrums gestuur – Waterloo vir Noord-Amerika en Slough, in die suide van Engeland, vir Europa, die Midde-Ooste en Afrika.
Mohlala het gesê gebruikers wat hulle BlackBerries ná April gekoop het, kan dit teruggee en ‘n ander soort foon van gelyke waarde eis. Hulle kan ook ‘n terugbetaling eis omdat die dienste wat belowe is, nie gelewer is nie.
Die kommissie het tot dusver nog net een klagte ontvang.
Dit wil egter voorkom of BlackBerry-dienste Donderdag na normaal teruggekeer het.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA