BlackBerry-eienaars se datagebruik ‘nie beperk’
2011-09-15 09:02
Pretoria – Daar is géén plan om BlackBerry-gebruikers wat meer as 100 MB van hul gratis, onbeperkte BlackBerry internetdienste (BIS) per maand gebruik aan ’n internet-spoedbeperking onderhewig te maak nie, het die uitvoerende hoof van die Vodacom-groep gister gesê.
Pieter Uys het in ’n verklaring gesê Vodacom se skakelbeamptes het ’n fout gemaak deur dié inligting aan BlackBerry-eienaars oor te dra.
Dit volg nadat talle BlackBerry-gebruikers hul woede oor dié besluit, wat talle as ’n databeperking (cap) op hul gratis en onbeperkte BIS-dienste verstaan het, veral op Twitter gelug het.
“Ek weet nie wat die ouens gedoen het nie. Ek het vanoggend opdrag gegee dat geen spoedbeperking op enige BIS-dienste aangebring sal word nie,” het Uys gesê.
Hy het wel gesê Vodacom werk tans met die skeppers van BlackBerry-fone, Research in Motion, saam om ’n oplossing te vind vir die probleem van mense wat hul gratis BIS-dienste misbruik deur groot hoeveelhede data gratis op skootrekenaars of rekenaars af te laai deur hul BlackBerry-fone as modems te gebruik.
BIS-dienste is volgens Uys veronderstel om gratis internet-swerwing en e-pos op ’n BlackBerry-foon te bied en nie om groot datalêers soos rolprente, musiek en TV-episodes op rekenaars af te laai nie.
– Volg Nuus24 op Twitter.