Bioniese oog ontwerp wat sig kan red
2010-03-31 05:13
Melbourne – ‘n Bioniese oog is in Australië ontwerp wat die sig van swak oë kan herstel en moontlik as die grootste deurbraak sedert die Braille-alfabet beskou kan word.
Kevin Rudd, eerste minister van Australië, sê dié toestel kan moontlik een van die belangrikste mediese vorderinge in ons leeftyd wees.
Die bioniese oog-projek het die potensiaal om duisende mense in Australië en regoor die wêreld se sig te herstel, het hy gesê.
Die toestel is ontwerp vir pasiënte wat aan sigverlies ly wat deur die genetiese toestand netvliesontsteking (inflammasie in die netvlies van die oog) veroorsaak word of deur die afname van die oogspier se funksie wat deur ouderdom vererger word.
‘n Deel van die toestel word chirurgies in die oog geplant. Dit bevat ‘n miniatuur kamera wat op glas gemonteer is, wat beelde vasvang en hulle na ‘n verwerker stuur wat die persoon in sy/haar sak dra.
Daarna stuur die verwerker ‘n draadlose sein na ‘n eenheid wat in die oog geplant word wat die senuwee in die oogvlies stimuleer en ‘n beeld na die brein toe stuur.
Kevin Murfitt van Vision Australia, wat ‘n diens aan blinde en visueelgestremde mense lewer, glo dat die bioniese oog die grootste bydrae tot blindheid en visueel-gestremdheid sal lewer sedert Louis Braiile die Braiile-alfabet 200 jaar gelede ontwerp het.
Die toestel ondergaan tans nog toetse. Die eerste implanting word in 2013 verwag.
- Sapa-AFP