Bill Gates soek toilet van die toekoms
2012-08-16 10:44
Seattle – Die bekende miljardêr en filantroop Bill Gates glo dat die ontwikkelende wêreld se toilette vir die toekoms met sonkrag aangedryf sal word.
Gates het 'n bedrag van $100 000 (sowat R827 000) aan die Kaliforniese Instituut vir Tegnologie gegee vir hul werk aan ‘n self-beheerde sonkragstelsel wat ondermeer water herwin.
Die mede-stigter van Microsoft fokus op die behoefte vir ‘n nuwe soort toilet as deel van sy stigting se doel om gesondheid in ontwikkelende wêreld te verbeter. Sanitasie is een van die hoofredes waarom 1,5 miljoen kinders onder die ouderdom van vyf jaarliks sterf. Gates voel ook dat ‘n Westerse toilet-struktuur nie die antwoord sal wees nie, omdat dat dit ‘n komplekse rioolinfrastruktuur vereis en te veel water gebruik.
Gates wil hê toilette moet meer omgewingsvriendelik wees, omdat die tegnologie nog nie regtig van prinsiep verander het sedert die spoelstelsel in 1775 begin is nie.
“Stel jou voor wat moontlik is as ons aanhou om saam te werk en nuwe idees in hierdie sektor te implimenteer,” het Gates by sy stigting se hoofkantoor in Seattle gesê. “Baie van die innoverings gaan nie net sanitasie verander nie, maar gaan ook help om ons afhanklikheid van spoeltoilette in ryk lande te verander.”
Sy stigting het $3,4 miljoen (sowat R28 miljoen) beskikbaar gestel vir die toilet-projek. Gates het tot dusver sowat $6,5 miljoen (sowat R53 miljoen) aan sy Reinvent the Toilet Challenge spandeer.
Sowat 2,6 miljard mense of 40% van die wêreld se bevolking, meestal in Sub-Sahara-Afrika en Suid-Asië, het nie toegang tot behoorlike sanitasiegeriewe nie, het Gates gesê.
Die Bill en Melinda Gates-stigting het verlede jaar hul ondersteuning aan agt universiteite verleen, wat die probleem probeer oplos deur ‘n nuwe higiëniese toilet te ontwerp wat min of geen water gebruik nie, veilig en bekostigbaar is en wat menslike afval in energie kan verander.
Gates hoop dat baie van die universiteite sal begin saam werk om die beste moontlike toilet te kan ontwerp wat binne die volgende twee tot vier jaar gebruik kan word.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Reuters