Betaal-TV: ‘Laat die kykers kies’
2011-10-22 09:17
Kaapstad – Betaaltelevisie se kykers kan dalk in die toekoms betaal nét vir die kanale wat hulle gereeld kyk en nie meer vir hele bondels nie.
Die verandering kan egter kom teen ’n prys omdat sommige kanale sal verdwyn en gewilde kanale duurder sal word.
Die Nasionale Verbruikerskommissie (NVK) het gesê hy wil hê DStv en TopTV moet hul bestaande kanaalbondels (boekette) ontbondel en verbruikers toelaat om vrylik te kan kies watter TV-kanale hulle wil hê. Hul bestaande kontrakte voldoen blykbaar nie aan die Wet op Verbruikersbeskerming nie.
Dié wet verbied die samevoeging van dienste en dit blyk dat die NVK die aanbieding van aparte televisiekanale in een bondel as ’n oortreding beskou.
Die NVK het gister ’n amptelike kennisgewing daaroor aan MultiChoice en ODM, die eienaars van onderskeidelik DStv en TopTV, uitgereik.
Betaaltelevisie in Suid-Afrika volg egter ’n model wat elders ter wêreld gevolg word, waar ’n getal kanale wat finansieel volhoubaar is, gebruik word om ander minder suksesvolle kanale te subsidieer deur die twee saam te voeg en te verkoop as ’n produk.
Indien die NVK se versoek deurgevoer word en verbruikers vrye teuels kry om te kies tussen die kanale wat hulle wil sien en wat hulle nie wil sien nie, kan dit beteken dat kleiner, minder volhoubare televisiekanale kan verdwyn.
Ontleders het gesê die ontbondeling van kanale sal beteken betaaltelevisie-operateurs sal die prys vir sekere kanaalaanbiedings aansienlik moet lig – wat betaaltelevisie ook duurder kan maak.
Channel24 het berig dat TopTV se bestuur nog met die kommissie onderhandel.
Thato Mahapa, ’n senior bestuurder by TopTV, het aan die webwerf gesê die groep het nog nie finaal besluit om die kommissie se kennisgewing te aanvaar of verwerp nie. “Ons bespreek nog die saak.”
MultiChoice se woordvoerder was nie vir kommentaar beskikbaar nie.
Ebrahim Mohamed, adjunkkommissaris van die NVK, het navrae na die departement van handel en nywerheid se kantoor vir verbruikersbeskerming verwys. Dié kantoor stuur die projek vir die kommissie.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld