Bekende sagteware-entrepreneur gesoek vir moord
2012-11-13 08:17
Kaapstad – Die bekende sagteware-entrepreneur John McAfee, skepper van die McAfee-sagtewarereeks, is die hoofverdagte in 'n moord in Belize, het dié land se polisie gesê.
Marco Vidal, hoof van 'n taakmag teen bendemisdaad, het gesê McAfee is die hoofverdagte in die moord op die 52-jarige Amerikaner Gregory Faull, wat Saterdagaand by sy huis in San Pedro Town op die eiland Ambergris Caye doodgeskiet is.
Die tegnologiewebwerf gizmodo.com berig Faull se huishulp, Luara Tun, het hom Sondagoggend in 'n poel bloed in sy gang aangetref met 'n kopwond.
'n Skootrekenaar en selfoon is gesteel.
Die twee mans het glo in die laaste paar weke gereeld vasgesit. Faull het onlangs 'n klag teen McAfee gelê by die kantoor van die burgemeester, waarin hy onder andere beweer het dat McAfee skote afgevuur het.
Die polisie het McAfee as die hoofverdagte geïdentifiseer, maar die motief vir die moord is nog nie bekend nie.
McAfee het in die laaste paar maande na bewering gereeld op webwerwe vertel van sy voorliefde vir dwelms.
– Lees hier meer.
– Volg Nuus24 op Twitter.