Bejaarde (91) kry sertifikaat in rekenaargeletterdheid
2011-06-10 08:15
Kaapstad – ’n Mens is nooit te oud om te leer nie.
So het Andrew Kiewiets (91) Donderdag gesê toe hy sy sertifikaat in rekenaargeletterdheid in Delft ontvang het.
Kiewiets, wat in Oktober 92 word, het gesê hy is baie bly oor sy sertifikaat en wil graag sy onderneming (hy maak portretrame) op die internet bemark.
“Ek wil ook ander mense aanmoedig om te leer.”
Patrice Mwamba, een van Kiewiets se mentors in die kursus in die Zoë Academy of Skills, het gesê Kiewiets het aan hom gesê hy wil die kursus loop omdat alles om hom verander het en hy moet aanpas.
Hy het drie uur per dag aan die kursus gewy en dit ná twee maande voltooi.
Dit is net ’n kortkop agter die ander studente wat die kursus in ses weke voltooi het.
“Ek is nou nie so vinnig soos die ander kinders nie,” het Kiewiets erken.
Hy het ook nog lank nie klaar geleer nie. Volgende op sy agenda is ’n kursus in Xhosa en een in meubelstoffeerwerk.
“Ek ken so ’n bietjie, maar dis nie regte Xhosa nie.”
Eendag wil hy ’n rekenaar of dalk ’n iPad koop. “Dis lekker klein.”
– Volg Nuus24 op Twitter.