Bedrywige Apple presteer nie goed genoeg
2013-01-24 14:06
Londen – Apple het 47,8 miljoen iPhones in die laase kwartaal van 2012 verkoop en sy inkomste het tot $54,5 miljard (sowat R493 miljard) gestyg – maar die maatskappy kon steeds nie sy teikens haal nie.
Inkomste vir die eerste fiskale kwartaal van 2013, die belangrike Kersfees-inkopietydperk van 1 Oktober tot 31 Desember, het ‘n rekordvlak van $54,5 miljard (sowat R493 miljard) bereik, maar dit is minder as die $55 miljard (sowat R497 miljard) wat deur Wall Street voorspel is.
Aandele van die maatskappy het ná die aankondiging gedaal en het in 'n stadium meer as 10% geval.
Ontleders het verwag dat daar sowat 50 miljoen iPhones verkoop sou word, en dat Apple se inkomste groter sou wees.
Dit is die derde agtereenvolgende kwartaal wat Apple nie sy teikens haal nie, het Sky News berig.
Mededinging van Samsung en tekens dat die slimfoon-mark na aan 'n versadigingspunt is, het Apple se groei vertraag.
Vrae word ook steeds gevra oor die maatskappy se vermoë om te innoveer na die dood van die ikoniese mede-stigter Steve Jobs.
– Lees hier meer.
– Volg Nuus24 op Twitter