Bedreigde tier dood weens vervoerchaos
2012-10-04 08:55
Banda Aceh, Indonesië – 'n Bedreigde Sumatraanse tier is dood ná alternatiewe reëlings vir sy vervoer getref moes word omdat passasiers op 'n vlug gekla het oor die reuk wat die dier afgee, het 'n amptenaar gesê.
Die agt jaar oue kat sou Dinsdag saam met ander diere op 'n kommersiële vlug van Banda Aceh aan die noordelike punt van Sumatra na 'n natuurreservaat op die Java-eiland gestuur word.
Passasiers het egter gekla oor die tier se reuk, en die nasionale lugredery, Garuda Indonesia, het ná 'n landing in Medan, Sumatra, besluit om die diere af te laai en terug te vervoer na Banda Aceh.
"Toe die tier op dieselfde dag in Banda Aceh geland het, het ons uitgevind dit is reeds dood," het Afan Absory, hoof van die provinsiale bewaringsagentskap, aan AFP gesê.
"Ons soek duidelikheid van die lugredery omdat hulle die tier terug na Banda Aceh gestuur het sonder om die amptenaar wat saam met die dier gereis het, daarvan in kennis te stel," het Absory gesê.
Die lugredery kon nie vir kommentaar bereik word nie.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP