Batman-skieter nou 'n internet-held
2012-08-01 11:43
New York – Terwyl talle mense vra vir die doodstraf vir die sogenaamde Batman-skieter, James Holmes, is daar nou 'n hele paar groepe op die internet wat Holmes heelhartig ondersteun, berig Mashable.
Holmes het in Julie na bewering op 20 Julie 12 mense in Aurora, Colorado, doodgeskiet en 58 gewond tydens die première van die Batman-rolprent The Dark Knight Rises.
Intussen is meer as 20 webblaaie op die gewilde blogplatform Tumblr geskep ter ondersteuning van die 24-jarige skieter.
Die groepe, wat na hulleself verwys as “Holmies,” bestaan meestal uit tienermeisies, en deel grafika oor Holmes met mekaar. Party van dié materiaal vertoon die slagspreuk “I Love The Holmies”.
Tumblr-gebruikers gebruik dié blaaie ook om mense aan te moedig om aan Holmes te skryf om hom te ondersteun.
'n Subtitel op een van die blaaie lui: “Hierdie gaan 90% foto's wees en ek moet erken ek is aan James se kant.”
Dieselfde tendens is ook op Facebook te bespeur. 'n Blad ter ondersteuning van Holmes, wat deur meer as 800 mense gevolg is, moes inderhaas deur die maatskappy verwyder word, hoewel dit nie tegnies 'n oortreding van die gebruikersreëls was nie.
Facebook het intussen gesê die blad is in "uiterste swak smaak".
– Lees hier meer.
– volg Nuus24 op Twitter.