'Baie nog nie Facebook-voos'
2012-02-04 10:13
Washington– ’n Opname waarvan die bevindings Vrydag bekend gestel is, wys dat mense wat die sosiale netwerkwerf Facebook sedert sy ontstaan in 2004 gebruik nog glad nie moeg is daarvoor om hul gedagtes te deel nie.
’n Verslag deur die Amerikaanse Pew-navorsingsentrum, gegrond op kommunikasiedata sedert November 2010, werp lig op Facebook se moontlike langtermyn-gewildheid.
Die maatskappy, gestig deur Mark Zuckerberg, probeer nou om met ’n aanbod van $5biljoen (ongeveer R37,5 miljard) genoteer te word.
Een van die vrese wat Facebook se aanvanklike openbare aanbod voorafgaan, is die sogenaamde Facebook-voos-sindroom, met gebruikers wat glo verveeld sal raak met die webwerf. Die Pew-navorsing bewys egter sulke vrese as ongegrond.
Hoe langer mense Facebook gebruik, lui die verslag, hoe meer dikwels kliek hulle op “like”, lewer kommentaar op vriende se blaaie of bring hul eie profiel op datum.
Luidens die verslag is Facebook gebruikers met baie vriende ook meer betrokke by die webwerf as dié met min vriende.
Daar word bereken dat ’n Facebook-gebruiker gemiddeld 31 170 ander gebruikers kan bereik.
Lee Raine, hoof van Pew se navorsingspan, het gesê die verslag “bevestig een van die oudste waarhede oor vriendskap, naamlik hulp en emosionele ondersteuning”.
Facebook het tans sowat 845 miljoen gebruikers wêreldwyd.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Reuters