Baby Gaga: Die borsmelk-roomys vir grootmense
2011-02-25 09:12
Londen – ’n Spesialisroomys-winkel beplan om borsmelk-roomys te bedien en het gesê mense moet daaraan dink as ’n 100% natuurlike produk.
Die borsmelk brousel, "Baby Gaga," sal vanaf Vrydag by Icecreamists se restaurant in Londen se Covent Garden beskikbaar wees.
Icecreamists-stigter Matt O'Connor was vol vertroue dat sy blik op die “wonders van moederskap”, en wat vir £14 (sowat R160) per bediening te koop is, deur die publiek verwelkom sal word.
Die borsmelk is verskaf deur moeders wat ’n advertensie op ’n aanlyn moeder-forum, Mumsnet, geantwoord het.
Victoria Hiley (35) van Londen was een van die 15 moeders wat borsmelk geskenk het. Sy glo dat as volwassenes besef hoe lekker borsmelk eintlik is sal nuwe moeders meer bereid wees om hul pasgeborenes te borsvoed.
“Wat kan meer natuurlik wees as vars, natuurlike borsmelk in ’n roomys? En vir my help dit teen die resessie – watter skade veroorsaak dit om my bates vir ’n ekstra bietjie kontant te gebruik,” het sy in ’n verklaring gesê.
“Ek het vandag die produk vir die eerste keer probeer. Dit is baie lekker en smelt regtig in mens se mond.”
Die Baby Gaga-resep meng borsmelk met vanieljepeule uit Madagaskar en suurlemoenskil, wat dan in roomys omskep word.
O’Connor het gesê Baby Gaga is slegs een van die dosyn radikale nuwe geure by dié winkel beskikbaar.
“Sommige mense sal daarvan hoor en sê, ‘sies’. Maar dit is suiwer, organies en heeltemal natuurlik,” het hy gesê. “Ek het vanoggend ’n Baby Gaga gehad en ek voel wonderlik.”
Volg Nuus24 op Twitter.
- Reuters