Babelas laat papegaaie poegaai
2010-06-03 02:12
Sydney – Honderde papegaaie wat voorkom asof hulle dronk is val uit bome en uit die lug in ‘n noordelike Australiese dorp en is ‘n vreemde verskynsel vir veeartse wat sukkel om vir die voëls te sorg.
Die helderkleurige lorikiete toon klassieke tekens van dronkheid deur swak koördinasie, hul bewussyn te verloor en dan ineenkrimp in hokke terwyl hulle van hul “babelas” herstel.
“Dit kom regtig voor asof hulle dronk is,” het Lisa Hansen, ‘n veearts by die Ark Animal Hospital in Palmerston naby Darwin gesê.
“Hulle val uit bome uit...en hulle is nie so gekoördineer soos wat hulle normaalweg sal wees nie. Hulle probeer spring en dan mis hulle die volgende dwarshoutjie.”
Volgens Hansen is niemand seker wat die simptome veroorsaak nie, alhoewel dit moontlik ‘n plant kan wees wat hulle eet. Ander teorieë sluit in die uitbreek van ‘n nuwe, vreemde virus.
Sy het gesê dat die hospitaal na sowat 30 voëls op ‘n slag omsien en sowat agt ‘n dag word ingebring nadat hulle uit tuine en langs paaie opgetel word.
Die voëls word versoete pap en vars vrugte gevoer – die voël-weergawe van babelas-kos.
“Dit is waarskynlik die ekwivalent van roomys en blikkies Coke vir die lorikiete,” het Hansen Woensdag gesê.
“Hulle sit op die vloer van die voëlhok en rus hul koppe teen die kant, of hulle krul op in die hoek en kruip weg onder die papier om die res van die wêreld uit te blok.”
Jansen het bygevoeg dat “dronk” lorikiete al voorheen in Palmerston voorgekom het, maar nog nie in sulke groot getalle nie en dat hulle kan sterf as hulle nie die nodige behandeling ontvang nie.
- AFP
Volg Nuus24 op Twitter
\