Baba weet hoe iPad werk, sukkel met tydskrif
2011-10-14 15:05
New York – 'n Ouer het ‘n video op YouTube gelaai wat wys hoe haar eenjarige baba maklik met ‘n iPad werk, maar met die eenvoud van ‘n tydskrif sukkel.
“Hierdie een werk,” staan op die skerm geskryf voor die video wys hoe die jong dogtertjie maklik met Apple se tabletrekenaar speel.
Daarna wys die video hoe die baba met ‘n tydskrif sukkel en haar vingertjies oor die blaaie beweeg soos 'n mens oor ‘n iPad se skerm vir die blaai tussen programme maak.
“Is hierdie een gebreek of wat,” probeer die woorde op die skerm haar gedagtes opsom.
“Vir my 1-jarige dogter is ‘n tydskrif ‘n iPad wat nie werk nie,” skryf die ouer aan die einde van die video.
“Steve Jobs het ‘n deel van haar bedryfstelsel gekodeer,” sluit die video af. “Dit is ‘n beskeie huldeblyk aan hom.”
Gebruikers op YouTube het egter nie die videomateriaal so ligtelik opgeneem nie.
“Moenie verbaas wees as sy later nie sal kan leer om te lees nie,” het die was die topkommentaar op die video.
‘n Ander gebruiker het kortaf kommentaar gelewer: “Dit is hoe om kindwees en kreatiwiteit dood te maak.”
Dié gebruiker se kommentaar het meer as 30 ander gebruikers die Like-knop laat druk.
Kyk hier na die video.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Nuus24