Baba met hart buite borskas gebore
2009-09-05 01:05
Nieu Delhi – ‘n Tien dae oue baba herstel in die hospitaal nadat hy met sy hart aan die buitekant van sy borskas gebore is.
Dié seuntjie, afkomstig uit Indië se Bihar-provinsie, moes byna vier ure in die teater lê terwyl dokters gepoog het om plek te maak vir sy hart in sy klein lyfie.
“Ons het saggies gewerk om sy hart deels in sy borsholte, deels in sy maagholte te plaas. Ons moes seker maak dat ons geen skade aan die hart en aortas aanrig nie,” het ’n hartchirurg, AK Bishoi, aan die Indiese media gesê.
Die seun se ouers, beide arbeiders, het hom kort na sy geboorte per trein na die hospitaal vervoer. Hulle het hom in ‘n dun handdoek toegedraai. Die treinrit en die handdoek om die hartjie het daartoe bygedra dat die seuntjie nou verskeie infeksies opgedoen het.
Hy is later na Indië se instituut vir mediese navorsing oorgeplaas.
Volgens dokters was die operasie baie uitdagend omdat hulle die seuntjie se longe en lewer uit die pad moes druk om plek te maak vir die hart.
“Ons moes letterlik ‘n ‘huis’ skep vir die hart in sy klein liggaampie. Maar ek is bly dat hy besig is om te herstel,” het Bishoi gesê.
–AFP