Baas stres oor sukses, Klaas oor kos
2011-07-15 10:02
New York – As jy jaloers na jou baas se blink nuwe sportmotor gluur terwyl jy in die parkeerterrein sigaretstompies soek om te rook, wees gerus: Sy lewe is dalk net so moeilik soos joune.
Navorsers het nege jaar lank wilde bobbejane bestudeer en bevind alfamannetjies ervaar net soveel druk as mannetjies met melkpensies wat sukkel om selfs ‘n iets te eet te kry.
Mannetjies in die middel van die spektrum het egter minder stres as beide baas en Klaas ervaar, het die navorsers bevind.
Hulle navorsing is in die wetenskapjoernaal Science gepubliseer.
Die vlak van die streshormoon glukokortikoïed in die bobbejane se afwerpsels het aangedui watter mannetjies die ergste onder stres deurloop.
“Alfamannetjies het veel hoër hormoonvlakke as die mannetjies in die middel gehad, wat vir ons sê dit is moeilik om suksesvol te wees,” het die studie, onderneem deur navorsers van die Princeton-universiteit, gelui.
Alhoewel melkpensies en breëborsmannetjies omtrent ewe veel stres ervaar, is dit vir verskillende redes.
Alfamannetjies brand baie krag deur vir hul status te baklei en om met soveel wyfies moontlik te paar.
Die minder gewilde mannetjies brand glo net soveel energie deur kos te soek.
Die navorsers meen daar is voordele om vir die middel te mik.
Dié mannetjies kry amper net soveel aandag van wyfies as die alfamannetjies en sukkel nie so om hulle mae vol te kry nie.
“Hulle vaar beter as verwag,” lui die studie.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP