Aussies verklaar oorlog teen haaie
2012-09-27 15:11
Perth – Die regering van Wes-Australië het besluit dat haaie wat té na aan swemmers beweeg, van kant gemaak kan word voor hulle die kans kry om aan te val.
Die besluit is geneem in reaksie op ‘n ongekende vlaag sterftes die afgelope tyd as gevolg van haai-aanvalle, het die Herald Sun berig.
Die regering het aangekondig dat hy Aus$ 6,85 miljoen (sowat R58 miljoen) gaan bewillig vir strategieë om die haai-aanvalle te verminder.
Altesaam vyf mense is die afgelope 10 maande in haai-aanvalle dood.
Die regering het ook Aus$ 2 miljoen (sowat R17 miljoen) toegeken aan die departement van visserye vir hul pogings om haaie op te spoor, te vang en dood te maak wanneer hulle te na aan strandgangers beweeg.
Die regering het die voorwaardes waaronder ‘n witdoodshaai doodgemaak kan word, ook verander, het Norman Moore, minister van visserye, gesê.
“Voorheen kon ons net witdoodshaaie doodmaak as iemand aangeval word, maar nou sal ons een kan doodmaak as hy ‘n bedreiging vir mense inhou.”
Die mees onlangse dodelike haai-aanval in Wes-Australië was in Julie, toe ene Ben Linden deur ‘n witdoodshaai van vyf meter aangeval is.
Lees hier meer.
– Volg Nuus24 op Twitter