Asseblief, breek by my huis in!
2010-02-26 14:49
San Francisco – Omdat al hoe meer mense op sosiale netwerke bekendmaak waar hul hulself bevind, het ‘n nuwe blad ontstaan om te herinner as almal weet waar jy is, weet hulle ook waar jy nié is nie.
Dit, wys die webwerf uit, kan onvriendelike besoekers in jou afwesigheid by jou huis inbring.
Dié webblad, genaamd Pleaserobme.com, is baie eenvoudig. Al wat dit doen, is om boodskappe op die sosiale netwerk Twitter te plaas van mense wat 'tweet' waarheen hulle op pad is.
Mense is gemaklik daarmee om allerhande persoonlike besonderhede op sosiale netwerke, soos Facebook en Twitter, te deel. Nou begin hulle van ander programme soos Foursquare, Gowalla of Loopt gebruik maar om vriende te laat weet waar hulle is.
Alhoewel baie mense kies om hierdie inligting net aan sekere vriende te openbaar, gee baie nie om om dit vrylik op die web beskikbaar te stel nie.
“Dit is presies wat die mense agter Please Rob Me geïnspireer het”, sê Boy van Amstel (25), een van die vervaardigers.
Van Amstel sê dat tegnologie so maklik geword het om te gebruik dat mense te veel inligting op die web deel sonder om dit agter te kom. Hy sê Please Rob Me wil mense herinner om twee keer te dink voor hulle inligting op die web met ander deel.
Die blad wys glo ook nie die huise wat leeg is of adresse nie maar wys wel Twitter-gebruikers se foto’s en name en hoe lank hulle van die huis af weg was asook waarheen hulle gegaan het.
-News24