Aspirien halveer kans op kolorektale kanker
2011-10-28 11:02
Londen – ‘n Langtermyn, daaglikse dosis aspirien kan die kans op kolorektale kanker met tot 60% verminder by mense wat die siekte moontlik kan erf, het navorsers bevind.
Die studie het op pasiënte met Lynch-sindroom, ‘n fout in gene wat tot kolorektale en ander kankers lei, gefokus.
‘n Totaal van 861 pasiënte is in twee groepe verdeel waarvan een groep 600 mg aspirien daagliks gegee is terwyl ‘n ander groep ‘n plasebo gegee is.
Vyf jaar later het 23 mense in die groep wat die plasebo ingeneem het, kanker ontwikkel terwyl slegs 10 mense in die groep wat aspirien ingeneem het, met kolorektale kanker gediagnoseer is.
“Medici moet die voorskryf van aspirien oorweeg vir alle pasiënte wat ‘n hoë risiko loop om kolorektale kanker te ontwikkel,” het die hoofnavorser John Burn van die Newcastle-universiteit in Brittanje gesê.
Die navorsing is in die joernaal The Lancet gepubliseer.
– Volg Nuus24 op Twitter.