'Arm' lande moet bydra
2011-12-05 09:18
Durban – China, Indië, Brasilië en Suid-Afrika, die sogenaamde Basic-lande, moet erken dat hulle nie meer arm, ontwikkelende lande is nie en moet ook geldelik bydra tot die Groen Klimaatfonds (GKF) van R800 miljard per jaar.
Dié aandrang deur die wêreld se ontwikkelde lande van Europa, Amerika, Kanada en Japan is tans een van die knelpunte in die onderhandelings op die COP17-beraad.
Die Basic-lande verwerp die ryk lande se siening en hou hier vol dat hulle slegs ontvangers van geld uit die GKF moet wees terwyl hulle hul ekonomiese agterstande uitwis.
Hulle verwerp ook die gebruik van ’n land se Bruto Nasionale Produk (BNP) as maatstaf om sy bydrae tot die GKF te bepaal.
Van die Basic-lande is China volgens sy BNP, ná Amerika, reeds die naasrykste land ter wêreld. Brasilië is sewende op dié lys, een plek hoër as Italië, gevolg deur Indië in die negende plek–net ryker as Kanada.
Suid-Afrika is 29ste op die wêreld se BNP-ranglys, 2 plekke beter as Denemarke.
Daarteenoor dring die Basic-lande daarop aan dat hul bevolkingstal (China – 1,45 miljard; Indië – 1,35 miljard, Brasilië – 190 miljoen; Suid-Afrika – 50 miljoen mense) en ook die agterstande in hul onderontwikkelde ekonomieë as maatstaf gebruik word vir finansiering vanuit die GKF. Volgens syfers wat vir dié doel op COP17 gebruik word, is Indië 140ste, China 97ste, Suid-Afrika 73ste en Brasilië 59ste op die lys van die wêreld se armste bevolkings.
Die ontwikkelde lande, waarvan verskeie tans ernstige ekonomiese insinkings beleef, het hulle nietemin in Durban verbind tot die aanvang-finansiering van die GKF.
Volgens ’n lys van bevestigde bydraes wat gister op die COP17-beraad bekend gestel is, gaan Japan in 2012 altesaam R77,6 miljard tot die GKF bydra. Amerika beloof R62,4 miljard, gevolg deur die Europese Unie met R25,3 miljard. Kanada dra R3,5 miljard by. Verskeie EU-lidlande dra, benewens hul aandeel in die EU-skenking, nóg groot aanvanklike bedrae by. Swede is die enkele grootste skenker, gevolg deur Noorweë, Brittanje en Frankryk. Selfs Griekeland stel R48,4 miljoen aan die GKF beskikbaar.
Daarteenoor lewer geen van die Basic-lande ’n bydrae nie. Twee van die vier, Suid-Afrika en Indië, word egter as groen geldhulp gelys.
Op kort termyn, terwyl daar besin word oor watter instelling die GKF sal bedryf, sal Suid-Afrika en Indië hul aanvanklike groen finansiering regstreeks van die Noorweegse regering kry.
Na verneem word, is China ontevrede dat Indië reeds uitgesonder word om bystand uit die GKF te kry. Die Argentynse afvaardiging is glo deur die COP17-sekretariaat gevra om in die geskil te beding.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad