Aptyt-hormoon kan Alzheimer keer
2009-12-21 09:04
Saamgestel deur Antoinette Pienaar
Mense met hoë vlakke leptien, ’n hormoon wat aptyt reguleer, word dalk beskerm teen Alzheimer se siekte.
Navorsers aan die Boston-universiteit se mediese skool (Busm) sê in die jongste uitgawe van die Journal of the American Medical Association dié bevinding kan dalk baie beteken vir die ontwikkeling van mediese behandeling teen die siekte.
Kenners beskou demensie (waarvan Alzheimer se siekte een soort is) toenemend as ’n toestand wat verband hou met die interaksie tussen ’n persoon se genetiese samestelling en sekere lewenstylkeuses.
Volgens die kenners is leptien voordelig vir breinontwikkeling en -funksie. Dit verbeter glo ook die geheue en kan die aanpaksels in die brein, wat Alzheimer se siekte kenmerk, dalk voorkom.
Die navorsers het gekyk na die gesondheid van deelnemers aan die internasionale Farmingham-hartstudie.
Hulle het die leptienvlakke gemeet van 785 mense sonder demensie.
Altesame 198 van dié mense het ook MRI-skanderings gekry tussen 1999 en 2005, byna agt jaar nadat hul leptienvlakke gemeet is.
Die deelnemers se breinvolume en -veroudering is ook gemeet.
Die navorsers het bevind hoe hoër die mense se leptienvlakke was, hoe groter was hul breinvolume en hoe kleiner hul kans om Alzheimer se siekte te kry.
Ná 12 jaar het die mense wat die laagste leptienvlakke gehad het, ’n 25%-kans gehad om Alzheimer se siekte te kry, teenoor die 6%-kans by mense met die hoogste leptienvlakke.
Volgens die navorsers is vetsug in die middeljare al verbind met ’n groter kans om dié siekte te kry. Dit is egter gewigsverlies laat in die lewe wat dalk ’n aanduiding kan wees dat die persoon binnekort kliniese tekens van die siekte gaan begin toon.
Navorsers ondersoek al ’n geruime tyd die rol van leptienvlakke in dié proses.
Leptienvlakke daal gewoonlik as mense ondervoed word.
Volgens dr. Sudha Seshadri, ’n mede-professor in neurologie by Busm, is dit moontlik dat leptienvlakke by ouer volwassenes ’n bio-merker kan wees vir gesonde breinveroudering.
Dit word reeds beskou as bio-merker vir liggaamsvet en die energiebalans in die liggaam.
Die verband met Alzheimer se siekte is egter nie eenvoudig nie.
Dit geld nie by mense wat vetsugtig is nie.
Dit kan wees dat vetsugtiges hoë vlakke van leptien het, maar weerstandig is daarteen.
Dit is soortgelyk aan mense met tipe?2-diabetes wat soms hoë vlakke van insulien produseer, maar hul liggame kan dit nie behoorlik gebruik nie.
- Beeld