Apple stel eerste weergawe van iCloud bekend
2011-08-02 10:08
Cupertino, Kalifornië – Die tegnologiereus Apple het die eerste toetsweergawe van sy langverwagte nuwe datadiens iCloud aan gebruikers beskikbaar gestel, berig die tegnologieblog Mashable.
Dié nuwe diens sal inhoud wat op verskillende Apple-toestelle afgelaai word, outomaties oor die toestelle met mekaar sinkroniseer.
Die nuwe toetsweergawe, wat beskikbaar is aan alle gebruikers met 'n Apple-ID, spog met 'n webweergawe van programme soos Mail, Contacts, Calendar, Find my IPhone en iWork.
Dié dienste is beskikbaar aan gebruikers van Apple se iOS 5 of Mac OS X Lion.
Die eerste vyf gigagrepe se data sal gratis wees, maar 'n addisionele tien gigagrepe sal $20 (sowat R134) kos, terwyl 50 gigagrepe jou $100 (sowat R670) uit die sak sal jaag.
– Lees meer hier.
– Volg Nuus24 op Twitter.