Apple betaal duur vir 'fout'
2011-07-14 14:46
Seoel – Die tegnologiereus Apple het Donderdag gesê hy het die eerste vergoeding uitbetaal oor ‘n "fout" in sy slimfone wat gebruikers se geografiese ligging insamel en stoor.
Apple het gesê hy het een miljoen won (sowat R6 500) aan die Suid-Koreaanse iPhone-gebruiker Hyung-Suk betaal ná ‘n bevel van ‘n hof in die stad Changwon.
Kim, ‘n 36-jarige prokureur, het die aanklag teen Apple in April vanjaar aanhangig gemaak.
Hy het gesê die slimfoon se insamel van sy geografiese ligging is ‘n skending van sy reg tot privaatheid.
Het het een miljoen won geëis en die hof het Apple beveel om die volle bedrag op te dok.
Apple Korea het gesê hy het nie die bevel teengestaan nie.
Vroeër vanjaar het sekerheidsnavorsers op versteekte rekenaarlêers afgekom wat iPhone-gebruikers se geografiese ligging bevat.
Wanneer die foon met iTunes gesinkroniseer word, word die lêers glo op die rekenaar se hardeskyf gestoor.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP