Apple-baas stel aandeelhouers gerus
2013-02-28 14:07
Cupertino – Tim Cook, uitvoerende hoof van Apple, het die maatskappy se aandeelhouers verseker dat die maatskappy aan “uitstekende produkte” werk wat die skerp daling in sy aandeelprys kan omkeer.
Cook het egter nie enige verdere inligting oor nuwe produkte gegee nie.
Hy het by die maatskappy se jaarlikse aandeelhouersvergadering 'n toespraak gelewer.
Tegnologiekenners het in onlangse maande bespiegel dat Apple aan ‘n nuwe horlosie of televisie werk.
Die vergadering Woensdag by Apple se hoofkwartier in Cupertino, Kalifornië was minder feestelik as vorige jare s’n, toe Apple se aandeelprys nog skerp gestyg het.
Die maatskappy se aandeelprys het met meer as 'n derde gedaal sedert dit vyf maande gelede ‘n algehele hoogtepunt van $705,07 (sowat R6 200) bereik het.
Apple het nog nie ‘n nuwe soort produk bekend gestel sedert die dood van sy voormalige utvoerende hoof en mede-stigter, Steve Jobs, in 2011 nie.
Hoewel Apple meer toestelle as ooit verkoop, groei die maatskappy se winste en verkope nie so vinnig soos voorheen nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AP