Amerikaanse media berig meer oor Apple
2010-09-28 01:03
Washington – Apple kry glo meer dekking deur die Amerikaanse media as enige ander Amerikaanse tegnologie-maatskappy, en die meeste daarvan is positiewe nuus, het ‘n studie wat Maandag bekendgemaak is bevind.
Google kry die tweede meeste dekking gevolg deur Twitter, Facebook en Microsoft, het die studie bevind wat deur die Pew Research Centre’s Project for Excellence in Journalism gedoen is.
Vir die studie het Pew tegnologiese stories tussen Junie 2009 en Junie 2010 bestudeer.
Vyftien persent van die stories gedurende daardie periode het oor Apple, die vervaardiger van Macintosh-rekenaars, die iPod, iPhone en iPad gegaan, terwyl 11% oor Google gegaan het.
Die mikro-blog Twitter het 7% dekking gekry met Facebook op 5% en Microsoft met 3%, het die studie bevind.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP