Alkohol kan allergieë vererger
2011-11-07 13:05
New York – Alkoholiese drankies kan allergiese reaksies veroorsaak of bestaande allergieë vererger, toon die bevindinge van 'n nuwe studie.
Alhoewel dit skaars voorkom, is sommige mense allergies vir die alkohol self, terwyl ander vir verskeie ander bestanddele in drankies allergies is, het die navorser Sami Banha van die Louisiana State-universiteit in Amerika gesê.
Verskeie bestanddele in bier en wyn – soos etanol, druiwe, mout, koring en gars – kan ‘n allergiese reaksie tot gevolg hê.
Ander allergene, soos eierwit en sulfiete, word soms in die vervaardigingsproses gebruik.
“Mense kan vir die alkohol self of vir ander bestanddele allergies wees,” het Banha gesê. “Mense is dalk nie daarvan bewus nie, maar alkohol kan hul bestaande allergieë vererger.”
Banha sal sy bevindinge by ‘n vergadering van die Amerikaanse Kollege vir Allergieë, Asma en Immunologie voorlê.
– Lees meer hier.
– Volg Nuus24 op Twitter.