Afrika kry moontlik ’n Groen Handves
2011-12-06 07:01
Durban – Die Gaia-stigting en Dzomo la Mupo (Stem van die Natuur/DLM) in Vhembe in Limpopo stel hier op COP17 ’n klimaathandves vir Afrika op wat deel sal uitmaak van ’n “Internasionale Handves vir die Regte van Moeder Natuur (’n Groen Handves)”.
Die Groen Handves sal soortgelyk wees aan die Handves vir Menseregte wat ná die Tweede Wêreldoorlog in 1948 deur die Verenigde Nasies aanvaar is.
Skenders van die Groen Handves sal voor die internasionale klimaathof gedaag en gestraf kan word. Die stigting van ’n internasionale klimaathof – soortgelyk aan die Internasionale Strafhof in Den Haag – is een van die doelwitte wat by COP17 in die vooruitsig gestel word.
Volgens Dylan McGarry van die departement van omgewingswetenskappe aan die Rhodes-universiteit in Grahamstad is die plan om die konsephandves teen Vrydag aan verteenwoordigers van die VN te oorhandig.
McGarry het gesê inheemse bevolkings sal maatskappye wat hul omgewing skaad en hul regte skend om toegang te kry tot skoon water, grond, lug en kos by die klimaathof kan aankla.
’n Bekende Suid-Afrikaanse regsfirma staan Gaia en DLM by in die opstel van die Afrika-deel van die Groen Handves.
Volgens McGarry het 35 000 inheemse mense in Suid-Amerika reeds hul deel van die Groen Handves opgestel. Die Afrika-deel sal nou hierby ingeskakel word.
Mphate Makaulule van DLM het Maandag op ’n gesamentlike nuuskonferensie met die Gaia-stigting gesê die doel van die handves is om die balans tussen die mens en sy omgewing te herstel. “Geen lewende wese is bo die ander verhewe nie.”
In die Groen Handves word onder meer daarop gewys dat die Skepping heilig is, dat alles (mens, dier en plant) in harmonie moet saam bestaan en diegene wat die omgewing verwoes (of in die verlede verwoes het), gestraf moet word. ’n Hoofstuk oor respek vir die kultuur van inheemse bevolkings maak ook deel uit van die Groen Handves.
Die Khoi-San het reeds hul deel van die Afrika-handves voltooi, het McGarry gesê.
Die eerste saak waaraan gewerk word, is dié teen Anglo American vir skendings van die omgewing in die verlede, het hy gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld